NIE-REGERINGSORGANISASIES DOEN ’N BEROEP OP OWERHEDE OM GEWELD EN SOSIALE VERVAL IN UPINGTON AAN TE SPREEK
Nie-regeringsorganisasies in Upington, binne die Dawid Kruiper-munisipale gebied, doen ’n dringende beroep op die owerhede om die toenemende geweld en sosiale verval in gemeenskappe indringend aan te spreek.
Die beroep volg ná die moord op ’n negejarige seun by Louisvale, buite Upington, asook die moord op ’n jong seun in Upington en verskeie ander gewelddadige voorvalle wat gemeenskappe die afgelope weke geruk het.
Volgens die organisasies het die uitdagings waarmee inwoners gekonfronteer word, toenemend buite beheer geraak, terwyl woonbuurte al hoe meer onveilig en lewensbedreigend vir inwoners word.
Organisasies, waaronder die Give Light-stigting, en ander gemeenskapsrolspelers meen dat dringende ingryping nodig is om die onderliggende probleme aan te spreek en inwoners, veral kinders en jongmense, beter te beskerm.
Hulle doen ’n beroep op die betrokke owerhede en ander belanghebbendes om saam te werk aan daadwerklike oplossings wat misdaad bekamp, kwesbare inwoners beskerm en die veiligheid en welstand van gemeenskappe herstel.
Die oproep beklemtoon die noodsaaklikheid van samewerking tussen owerhede, gemeenskapsorganisasies, gesinne en inwoners om geweld te bekamp en veilige gemeenskappe vir almal te help verseker.