UPINGTON-TIENER VEROWER HOOGSTE TITEL BY INTERNASIONALE SKOONHEIDSWEDSTRYD
Die 13-jarige Jeaneigh Borghesi van Upington het die hoogste titel by die jaarlikse Toddler and Tween of the World se Suid-Afrikaanse eindronde verower.
Die kompetisie het van 1 tot 3 Oktober in Klerksdorp in Noordwes plaasgevind, waar jong deelnemers van Suid-Afrika en Botswana in verskeie ouderdomsgroepe en afdelings meegeding het.
Jeaneigh, ’n graad-sewe-leerder aan Laerskool Oranje-Noord, is met die gesogte High Title Supreme-titel bekroon. Sy het ook verskeie ander toekennings ontvang, waaronder dié vir die Noord-Kaapse kategoriewenner en Noord-Kaapse ambassadeur.
Haar sukses is die hoogtepunt van jare se harde werk en toewyding. Sy het reeds op vierjarige ouderdom met modelklasse begin om haar selfvertroue te ontwikkel.
Vroeër vanjaar het Jeaneigh Suid-Afrika by die Ultimate International Miss-kompetisie in San Antonio, Texas, verteenwoordig, waar sy as algehele naaswenner in die Pre-Teen-afdeling geëindig het.
Sy berei haar nou voor vir die International Junior Miss Preteen-kompetisie in Orlando, Florida, later vanjaar, waar sy ook haar Italiaanse herkoms gaan vier.
Jeaneigh se prestasies plaas Upington en die Noord-Kaap op die internasionale verhoog en dien as inspirasie vir ander jongmense om hul talente te ontwikkel en hul drome na te streef