Umalusi bevestig gereedheid vir 2026-eindeksamens
Umalusi het die gereedheid van die Departement van Basiese Onderwys, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, die Independent Examinations Board en die South African Comprehensive Assessment Institute bevestig om die 2026-jaareindeksamens af te neem en te bestuur.
Die gehalteversekeringsraad het ook sy eie gereedheid bevestig om toesig te hou oor die gehalte van die eksamenstelsel tydens en ná die eksamenperiode.
Umalusi se mandaat spruit uit die Wet op Gehalteversekering vir Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding, asook die Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk.
Hierdie wetgewing vereis dat Umalusi die gehalte van kwalifikasies binne sy verantwoordelikheidsgebied verseker. Dit sluit in dat die gereedheid van openbare en private eksamenliggame geoudit word voordat hulle die nasionale jaareindeksamens afneem en bestuur.