Taxi-bedryf in Upington onder bespreking
Die uitdagings in die Upingtonse taxi-bedryf was die fokus van 'n gesprek tussen verteenwoordigers van taxi-assosiasies en senior munisipale amptenare, insluitend die burgemeester en munisipale bestuurder van die Dawid Kruiper Munisipaliteit.
Die byeenkoms, wat by die munisipale hoofkwartier gehou is, het gefokus op probleme binne die bedryf en moontlike oplossings. Die verenigings het amptenare versoek om dringend aandag te skenk aan die kwessie van rooftaxies, terwyl misdaad en ander verwante probleme ook bespreek is.
Burgemeester Dawid Kazi het die verteenwoordigers verseker dat alles moontlik gedoen sal word om die dooiepunte te besleg en stabiliteit in die bedryf te herstel.