Flip van der Steen van die Demokratiese Alliansie berig dat sy party die Dawid Kruiper-munisipaliteit by die Groen Skerpioene aangegee het. Dit volg na bewerings dat die munisipaliteit reeds drie weke lank versuim om te keer dat riool in die dorp se besproeiingskanaal beland. Volgens Van der Steen besoedel riool uit die groter dorpsgebied die kanaal naby die munisipaliteit se elektriese eenheid in Cohenweg, wat deur die dorp loop, verby die Oasis-oord, deur Lemoendraai, en langs die Keimoespad af tot by Mctaggartskamp. Hy meld dat die kanaal vir die besproeiing van dorpstuine gebruik word, asook deur opkomende boere vir die verbouing van wingerde, lusern, en die weiding van skape en beeste. Gemeenskappe in gebiede soos Ses Brugge, Klippunt, en Kalksloot benut ook die kanaalwater vir huishoudelike doeleindes.
Van der Steen voeg by dat die besoedeling 'n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap rondom die kanaal inhou, veral vir diegene wat die water en die besproeide produkte gebruik. Dit stel ook 'n ekonomiese risiko vir kleinboere wie se lewensbestaan deur die watergehaltekwessies bedreig word.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za