Herkoderings Versoek, DKM Reeds Afgehandel

Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het 'n beroep op huishoudings regoor Suid-Afrika gedoen om hul voorafbetaalde elektrisiteitsmeters voor die sperdatum van 24 November op te gradeer. Dit volg op die aankondiging dat ongeveer twee miljoen huishoudings, wat hul elektrisiteit van Eskom en munisipaliteite ontvang, nog nie na die nuwe stelsel oorgeskakel het nie. Die nuwe stelsel sal volgens 'n verklaring inwoners toegang tot elektrisiteit na die afsnydatum verseker. In die Dawid Kruiper munisipale gebied het die woordvoerder bevestig dat die proses voltooi is, terwyl die Kai !Garib munisipaliteit aangedui het dat hulle nog besig is en !Kheis nie op navrae gereageer het nie. Die minister het aangekondig dat Elektrisiteitsentiteite sal ophou om KRN1-elektrisiteitsbewyse uit te reik, wat die ou meetstelsel onaktief sal maak. Inwoners in die uitsendingsgebied word aangemoedig om hul meters te laat herkodeer of hul plaaslike munisipaliteit te nader vir hulp.


Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media