Opruimings werk is begin na die afgelope naweek se storm wat
grootskaalse sakde in beide Kimberley en Delportshoop aangerig het. Wydverspreide elektrisiteitsonderbrekings is in verskeie
dele van die stad ervaar toe weerlig substasies Vrydag getref het. Die
geaffekteerde gebiede het Galeshewe, Homestead, Homevale, Colville, Homelite,
Lethabo Park, Platfontein, Slangpark, Bloemanda, Transit Camp, Tswelelang en
Roodepan ingesluit. Swaar reën en sterk winde het dakke in Delportshoop
afgeskeur en infrastruktuur beskadig, terwyl huise deurdrenk was in verskeie
dele van Galeshewe. Inwoners wat agter die Homevale-brandweerstasie woon se
huise is oorstroom terwyl ‘n ontploffing by die HA Morris-substasie in Roodepan
plaasgevind het nadat dit deur weerlig getref is. Pogings was Maandag aan die
gang om krag na dele van Roodepan te herstel. ’n Nuwe
stroombreker moes Sondag by die Galeshewe-substasie geïnstalleer word. Thabo
Mothibi van die Sol Plaatje-munisipaliteit sê die ontploffings het groot skade
aan elektriese infrastruktuur aangerig, terwyl modderige toestande toegang tot
sekere terreine belemmer het. Die elektriese afdeling het deur die naweek
onverpoosd gewerk om die kragtoevoer te herstel.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za