Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap verwelkom die vooruitgang in die stryd om waardigheid aan munisipale werkers te bied, wat deur ongeërgde munisipaliteite van hul pensioene ontneem is. Dit volg na die arrestasie van Kamiesberg-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Rufus Beukes, vir die oortreding van die Pensioenfondswet 24 van 1956. Beukes is op 'n borgtog van tienduisend rand vrygelaat en word beskuldig dat hy van September 2019 tot April 2024 versuim het om aftrekkings van werknemers se salarisse en werkgewerbydraes aan die Gekonsolideerde Aftreefonds oor te maak, of laat betalings gedoen het. Die rente op die laat betalings beloop meer as R2 miljoen. Die party is verheug dat daar eindelik optrede teen wanbetalende munisipaliteite geneem word wat werknemers benadeel het deur nie maandelikse bydraes aan pensioenfondse te betaal nie.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za