'n Ondersoek wat in 2023 begin is, het volgens inligting 'n sindikaat geteiken wat in die lisensiesektor in die Vrystaat en Noord-Kaap aktief was. Die Vrystaatse polisie het hul ondersoek na die korrupsie wat met die onwettige uitreiking van rybewyse verband hou, voltooi. Volgens 'n polisie verslag het deeglike ondersoekpogings gelei tot die identifikasie en arrestasie van verskeie sleutelverdagtes. Die verdagtes het na bewering 'n skema bedryf wat ongekwalifiseerde persone toegelaat het om hul bestuurslisensies onwettig te verkry. Die spesiale operasie, uitgevoer deur die Vrystaatse Georganiseerde Misdaad-eenheid met bystand van misdaadintelligensie, het tot die inhegtenisneming van vyf verdagtes gelei op aanklagte wat verband hou met korrupsie en bedrog. Twee burgerlike verdagtes is in Petrusburg in hegtenis geneem, terwyl drie werknemers van die Verkeersdepartement in Kimberley gearresteer is. Hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za