Die R374 is Dinsdagoggend deur gemeenskapslede gesluit aangesien hulle geen bevredigende antwoorde op hul eise oor die tekort aan hulpbronne en personeel by Windsorton-polisiestasie ontvang het nie. Die gemeenskap het verlede week 'n optog na die polisiestasie gehou, wat die owerhede sewe dae gegee het om 15 nuwe polisiebeamptes, nog polisiereserviste en drie nuwe bakkies te werf, asook om 'n mobiele polisiestasie op die plek te vestig. Hulle vra ook dat die aanhoudingselle by die Windsorton-polisiestasie heropen word. Thomas Saul, ANC-takvoorsitter, het gesê die gemeenskap het by die Windsorton-vierrigtingkruising bymekaargekom in afwagting dat die provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, of die LUR vir veiligheid en skakeling sal opdaag om na hul bekommernisse te luister. Die SAPD se provinsiale woordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, sê beweerde ontevrede gemeenskapslede het Dinsdag omstreeks 10:00 na die vierrigting-kruising in Windsorton opgeruk.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za