In hul pogings om kriminele aktiwiteite hok te slaan, het die polisie in die ZF Mgcawu distrik op vermeende onwettige sigarette ter waarde van nagenoeg R4 miljoen in Upington beslag gelê. Volgens 'n polisie verslag op Vrydag, 14 Junie 2024, het die Upington-grenspolisie en die K9-eenhede, op 'n wenk opgetree en toegeslaan op 'n plaaslike winkel wat verdink word van die verkoop van onwettige sigarette. Sersant Omphile Masegela, 'n woordvoerder van die Noord-Kaapse polisie, het berig dat beamptes met inspeksie van die perseel 'n versteekte stapel sigarette in 'n stoorkamer ontdek het. Sy sê die winkeleienaar kon geen fakture vir die goedere lewer nie, wat gelei het tot die konfiskering van 153 meesterkiste sigarette. Masegela sê ’n ondersoek is geopen om die saak verder te ondersoek en die oorsprong van die vermoedelike onwettige handelsware te bepaal.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za