DA oor swak reaksietyd en voertuig herstelkontrakte

Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap sê hulle is bekommerd dat die polisie se reaksietyd die stadigste in die hele land is. Dit kom nadat 'n reaksie van die minister van polisie, Bheki Cele, verlede week ontbloot het dat inwoners in die Noord-Kaap in misdaadverwante noodgevalle vir meer as 'n uur aan die genade van misdadigers oorgelaat word weens die stadige reaksietyd van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die party sê in 'n verklaring dat die polisie se stadige reaksie op misdaad geen verbasing is nie gegewe die ernstige gebrek aan operasionele voertuie wat vir polisiekantore by stasies regoor die provinsie beskikbaar is. Hulle sê ook dat hulle as party nie tevrede is dat die provinsie 'n voertuigherstelkontrak met diensverskaffers in Johannesburg en Durban het nie, aangesien dit die omkeertyd van die herstel van SAPD-voertuie in die provinsie drasties vertraag. Die DA sê, dit is voorheen deur die Provinsiale Polisiekommissaris, Genl. Maj. Koliswa Otola, in 'n vergadering met die DA se provinsiale woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling, Ofentse Mokae, bevestig. Die party hou vol dat dit van kardinale belang is dat die herstel van polisievoertuie gedesentraliseer word sodat daar onmiddellik op misdaad gereageer kan word, veral omdat die provinsie al hoe meer grootstadmisdade ondervind en gevaarliker word namate misdadigers munt slaan uit die SAPD se swakhede.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media