Groen skerpioene geroep

Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap het 'n beroep op die Groen Skerpioene gedoen om kriminele stappe te neem teen die onbevoegde Kai !Garib-munisipaliteit omdat hulle versuim om 'n amper agt jaar oue rioolstorting in Keimoes aan te spreek. Die DA het in 2016 die eerste keer bewus geword van die storting, wat veroorsaak is deur 'n verstopte drein en oorlopende riool in die veld in Wyk 6. Sedertdien het rou riool agter inwoners se huise opgedam. Riooldamme het in voetgangerpaadjies gevorm, wat uiteindelik 'n vuil rioolmeer geskep het. Deur die jare het talle klagtes by die munisipaliteit op dowe ore geval. Die DA het in 2022 die rioolstorting by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangemeld. Hulle sê hulle bly in konstante kommunikasie met die gevallebestuurder van die komisie en verskaf gereelde opdaterings. Die party sê dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit toelaat dat rou riool die gesondheid en welstand van Keimoes-inwoners bedreig sonder enige kommer vir die gemeenskap of verbintenis om die situasie reg te stel.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media