Rowers vas

Die polisie in Douglas het drie mans gearresteer minute nadat hulle skote afgevuur het en gepoog het om 'n tuckshop in Breipaal, Douglas, te beroof. Die polisie sê op Dinsdag, 09 Januarie 2024 omstreeks 04:00 het die vier manlike verdagtes na bewering 'n huis in Breipaal, Douglas betree en die 28-jarige manlike slagoffer in sy arm geskiet en gewond. Volgens die polisie het die verdagtes met 'n onbekende bedrag kontant gevlug en die shanty aan die brand gesteek. Drie uure later het dieselfde verdagtes na bewering skote in 'n nabygeleë winkel afgevuur toe hulle na bewering die eienaar probeer beroof het. Die Douglas SAPD-speurders en Sigbare Polisiëring was besig om die eerste toneel by te woon en het dadelik op die geweerskote by die tuckshop gereageer. Die vier verdagtes het te voet deur mieliegewasse gevlug, maar drie van hulle is deur die polisie gevang en gearresteer. Die polisie het ook beslag gelê op 'n Baby Brown-vuurwapen en ammunisie. Die vierde verdagte is volgens die polisie steeds op vrye voet, maar die polisie glo dat sy arrestasie op hande is. Die verdagtes sal van poging tot moord, roof, brandstigting en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekla word. Die drie manlike verdagtes is tussen 25 en 35 jaar oud en sal binnekort in die Douglas-landdroshof verskyn. Ondersoek in die saak duur voort.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media