Borg vir skieter

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat Jacobus “Japie” Dawid Claassens, wat van twee aanklagte van moord aangekla word, in die Springbok-landdroshof op borgtog van R5 000 vrygelaat is. Claassens word daarvan aangekla dat hy twee van sy vriende wat hom op sy kleinhoewe in Vioolsdrif besoek het, op 31 Oktober omstreeks 04:30 geskiet het. Kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder, sê vier mans het by hul vriend kom kuier en gedurende die vroeë oggendure het bure geweerskote gehoor en na die kleinhoewe gegaan om ondersoek in te stel. Ehlers sê met die pollisie se aankoms het die eienaar van die kleinhoewe na bewering erken dat hy twee mans geskiet het en wou homself aan die polisie oorgee  Een van die slagoffers het na bewering geslaap toe hulle geskiet is. Die slagoffers, wat vermoedelik van Kaapstad is en 54 en 56 jaar oud is, is op 1 November in 'n hospitaal in Upington oorlede. Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, het oor die borgtogaansoek gesê Claassens moet elke Saterdag by die naaste polisiestasie aanmeld as deel van sy borgtogvoorwaardes. Die hof het verder beveel dat die beskuldigde geen kontak met getuies direk of indirek het nie, by sy huidige adres bly, en sy bewegings aan die ondersoekbeampte rapporteer indien hy sy adres binne 24 uur sou verlaat, en sy paspoort moet inhandig. Die saak is tot 13 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media