Die Demokratiese Alliansie (DA) het die stadsbestuurders van die Gamagara, Gasegonyana, Joe Morolong en Kgatelopele munisipaliteite versoek om dringend by Eskom aansoek te doen vir 'n tydelike beurtkragvrystelling vir minstens 'n week, sodat watertoevoer herstel en waterreserwes aangevul kan word. Dit kom nadat nóg 'n brand massiewe verwoesting in die groter Kuruman- en Kathu-omgewing veroorsaak het. Kragdrade en pale is vernietig. Dit het sedert Saterdag 'n algehele kragonderbreking veroorsaak. Die gebrek aan krag beteken dat water ook nie gepomp word nie, wat veroorsaak dat reservoirs leegloop. Die DA sê, dit bied 'n dubbele krisis vir boere wat brande bestry én sukkel om water aan hul vee te voorsien. Daar word beweer dat die brand die naweek tydens 'n militêre oefening by die Lohatla-opleidingsentrum ontstaan het. Dit kom weke nadat ses SAW-lede in nog 'n brand op Lohatla gesterf het.Hierdie en ander brande het groot stukke grond vernietig. Die DA sê verder, een brand het binne 500 meter van die buffer tussen Hotazel en die Thompson View-behuisingslandgoed plaasgevind. Ten spyte daarvan dat dit in hul jurisdiksie is, het Gasegonyana se brandweer sy verantwoordelikheid om te reageer afgestaan omdat hulle beweer het dat hulle hul toegekende kilometers vir die week opgebruik het. Boere het tot die landgoed se redding gekom en brandbestrydingspogings op hul eie grond laat vaar om te keer dat die brand na die behuisingslandgoed versprei.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za