Minstens nege leerlinge van die Laerskool Jan Kempdorp in die Noord-Kaap is hospitaal toe gehaas nadat hulle na bewering gevoelloosheid, maagkrampe en hoofpyn ervaar het. Die leerlinge het na bewering siek geword nadat hulle skyfies geëet het wat hulle op pad skool toe gekoop het. Woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, Geoffrey van der Merwe, sê die leerlinge is intussen ontslaan. Hy sê, die Noord-Kaapse departement van onderwys is bewus van 'n moontlike voedselvergiftigingsvoorval vandag by die Laerskool Jan Kempdorp en die leerders is hospitaal toe geneem nadat hulle tekens van maagkrampe, gevoelloosheid en hoofpyn getoon het. Van Der Merwe sê hulle is behandel en uit die hospitaal ontslaan nadat hulle buite gevaar verklaar is. Die departement sê hy is tevrede met die wyse waarop die skool die voorval hanteer het en 'n beroep op ouers en skoolgemeenskappe om op 'n hoë gereedheidsgrondslag te wees en na te gaan watter produkte/versnaperinge jou kinders verbruik en koop.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za