Phokwane grond bekyk

Die Demokratiese Alliansie het ’n oudit van die verkoop van munisipale grond in Phokwane-munisipaliteit aangevra. Dit volg op 'n beweerde onwettige ontwikkeling in die middel van Jan Kempdorp, op 'n groen sone, wat glo besig is om uit te brei. Byna 'n dekade gelede het die munisipaliteit die park verkoop. Die party sê, ten spyte daarvan dat daar vereis word dat die grond hersoneer is, het geen openbare deelname ooit plaasgevind nie. Die party sê daar is ook geen behoorlike rekord van die verkoop nie, behalwe 'n tjekboekblaadjie vir 'n bedrag van R110 000. Die eiendom was volgens inligting nie ten tye van die verkoop gediens nie. Die aankoop is gedoen op voorwaarde dat die eienaar ten volle verantwoordelik sou wees vir die aanlê van dienste na die eiendom asook vir die ontwikkeling van ingange na eiendom.’n Jaar en ’n half gelede is ’n huis op die stuk grond gebou, al is die grond stééds nie gediens nie. Alhoewel dit onbekend is watter tipe sanitasie gebruik word, is 'n sloot oor die teerpad gegrawe om 'n elektrisiteitsaansluiting te verskaf. Die DA sê, die kwessies rakende die betrokke eiendom is nie ‘n geïsoleerde geval nie. In 'n ander voorval is 'n eiendom van 1 000 hektaar, wat vir R76 000 gekoop is, onlangs aan die munisipaliteit terugbesorg nadat die eienaar nie met die tariewe en belastingbetalings kon byhou nie. Die DA sê hulle het kommer aan die Speaker ingedien en versoek dat 'n oudit na alle verkope van munisipale grond, wat oor 'n dekade terugdateer, dringend uitgevoer moet word. Behoorlike prosesse moet deurgaans gevolg word, anders kan die onreëlmatige grondverkope tot korrupsie lei.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media