Die Verkiesingskommissie in die Noord-Kaap sê alles is gereed vir die drie tussenverkiesings wat vandag plaasvind. Wyke in die Sol Plaatjie munisipaliteit in Kimberley; Kai Garib in Kakamas en Siyancuma in Douglas word betwis. Die woordvoerder van die Verkiesingskommissie, Elkin Topin sê die stembusse wat om seweuur geopen het – sal vanaand om negeuur sluit. Topin sê hulle hoop meer kiesers sal gaan stem as in die munisipale verkiesing en sommige ander tussenverkiesings.Twee tussenverkiesings word ook vandag in Klerksdorp in Noordwes gehou. Volgens die OVK het meer as 11-duisend kiesers geregistreer vir die tussenverkiesing in wyk 16 en 17. Die wyke het vakant geraak ná die bedanking van die raadslede. Vier partye ding mee, en die setels was voorheen onder DA- beheer. Die politieke ontleder van die Noordwes Universiteit, Andre Duvenhage sê die tussenverkiesings sal ‘n lakmoestoets vir aanstaande jaar se nasionale en provinsiale verkiesings wees. Hy sê dit is bekend dat die DA sy eie uitdagings het, daarom sal dit interessant wees om te sien hoe die party vaar, en wat die posisie van die ANC sal wees. Duvenhage sê die ANC is in verskeie provinsies onder druk.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za