EPWP-werkers het hul skok uitgespreek nadat hulle na bewering Woensdag ongebruikte mediese toerusting langs die pad in Wyk 8 naby John Daka in Galeshewe gevind het.
Die werkers het glo die oopgemaakte bokse met drup- en kateterdreineringssakke opgemerk op dieselfde plek waar hulle vroeër die dag 'n wit bakkie sien staan het.
Hulle sê die bokse is later sonder enige verduideliking deur 'n vrou, wat nie haarself geïdentifiseer het nie en ook nie waar sy vandaan kom nie, afgehaal.
Volgens die werkers het hulle die polisie gebel en selfs na die Sol Plaatje Behuisingsondersteuningsentrum gegaan om te vra dat die bokse deur die betrokke departement afgehaal word.
Een van die werkers het gesê sy het die bokse gesien op 'n plek wat hulle vroeër die dag reeds skoongemaak het.
Die werker het gesê hulle het vroeër die dag 'n bakkie op die plek sien staan, maar het niks vermoed nie. Lulu Mxekezo, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, sê die departement is nie bewus van die voorval nie. Mxekezo sê, die departement is nie die enigste entiteit wat gesondheidsdienste lewer nie aangesien daar ook private fasiliteite in die provinsie is.
Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za