Die Parlement van Suid-Afrika nooi die publiek uit om bydraes oor die wysigingswetsontwerp op ouer persone te lewer. Die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling wat kragtens artikel 59)(1) van die grondwet optree, het ten doel om openbare betrokkenheid ten opsigte van dié wetsontwerp te behartig en nooi belangstellende belanghebbendes derhalwe uit om kommentaar en bydraes te lewer. Die Wet op Ouer Persone, Wet No 13 van 2006, het ’n aantal probleme ondervind wat met die inwerkingstelling daarvan verband hou. Van die probleme wat geïdentifiseer is, is onder meer: ’n tekort aan tuisgebaseerde sorgdienste om ouer persone by hul gesinne en in gemeenskappe te hou, probleme met die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SAAMS) se betaalpunte, met inbegrip van lang toue, gebrek aan basiese geriewe soos toilette, skuiling, water en sitplek en ’n gebrek aan opvoeding oor die regte van ouer persone. Gevolglik het die Wysigingswetsontwerp op Ouer Persone ten doel om te verseker dat ouer persone van gehaltedienste voorsien word en die nodige beskerming deur die samelewing gebied word, met inbegrip van gemeenskapsgebaseerde en residensiële fasiliteite. Datums van die openbare verhore sal bekend gemaak word sodra dit bevestig is.
Journalist: Rene Julies
Email: rckjulies@gmail.com