Rodrick Titus
Mon, 21 Sep 2026
KIMBERLEY – POLISIE VIND DAGGA EN AMMUNISIE
Vier verdagtes is in Kimberley in hegtenis geneem nadat die polisie tydens ’n roetine-stop-en-soek- gooperasie beslag gelê het op dagga ter waarde van sowat 87-duisend-120 rand, asook ammunisie.
Lede van die Kimberley Openbare Orde Polisie het gistermiddag omstreeks halfdrie ’n stop-en-soek-operasie by ’n taxistaanplek uitgevoer.
’n Man is tydens die operasie met twee klein sakkies dagga betrap. Hy het glo daarna inligting aan die polisie verskaf oor die bron van die dwelms.
Die polisie het vervolgens na ’n ander taxistaanplek gegaan, waar ’n voertuig met drie insittendes onderskep en deursoek is. Dagga is in die voertuig gevind.
Verdere ondersoek het die polisie na twee persele in Kimberley en Galeshewe gelei. ’n Groot hoeveelheid dagga en ammunisie is daar gevind.
Drie mans, tussen 31 en 34 jaar oud, en ’n 27-jarige vrou is in hegtenis geneem. Die polisie sê twee van die mans en die vrou is vermoedelik buitelandse burgers.
Die verdagtes staan tereg op aanklagte van dwelm- en onwettige ammunitiebesit en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.