Tradisionele Leiers Verwerp Ondersoekkommissie Tydens Mayibuye-Konsultasie
Sommige tradisionele leiers van verskeie koningshuise het volgens inligting hul misnoeë uitgespreek tydens die Mayibuye-konsultasieproses wat onlangs in Kimberley plaasgevind het. Inligting dui darop dat die beraad, wat bedoel was om gemeenskapslede, tradisionele strukture en regeringsverteenwoordigers byeen te bring vir inklusiewe dialoog, het egter ’n platform geword vir protes teen die Noord-Kaapse regering se besluit om ’n ondersoekkommissie in te stel.
Die Noord Kaap se regering sê die kommissie, wat deur premier Zamani Saul gevestig is, het ten doel om die legitimiteit, samestelling en funksionering van sekere tradisionele rade in die provinsie te ondersoek. Maar leiers van verskeie koningshuise het dié stap beskryf as ’n poging om hulle gesag te ondermyn en die tradisionele stelsels van die provinsie te destabiliseer.
Volgens die leiers is hulle nie behoorlik gekonsulteer oor die instelling van die kommissie nie.
Premier Saul se kantoor het nog nie amptelik gereageer op die uitlatings van die tradisionele leiers nie, maar het vroeër aangedui dat die kommissie deel is van breër pogings om stabiliteit en wettigheid in tradisionele strukture te verseker.