WAARSKUWING: Lae Waterreservoirvlakke Ee Watergehalte In Upington
Die DKM Waterdienste stel die gemeenskap in kennis dat die waterreservoirvlakke in Upington tans uiters laag is, wat 'n direkte invloed het op die watervoorsiening en -druk in verskeie gebiede.
Die munisipaliteit sê verskeie woongebiede ondervind reeds onderbrekings in watervoorsiening. Die munisipaliteit sê hierdie situasie is die gevolg van onlangse vloedtoestande, wat die produksie van drinkwater by die aanleg beïnvloed het. Produksie is doelbewus verminder om voldoende sandverwydering moontlik te maak en om die gehalte van die water te verseker. Hierdie proses behels ook chemiese aanpassings, die skoonmaak van filters en sedimentasiedamme.
Die munisipaliteit voeg by dat troebelheid van rou water drasties toegeneem het – van 'n normale vlak van 40 NTU tot 'n buitengewone 800 NTU. As gevolg hiervan word die kwaliteit van die water nou streng gemonitor.
Indien kraanwater onduidelik voorkom, word inwoners versoek om die kraan vir ’n tyd lank oop te laat sodat enige sediment uitgespoel kan word.
Die munisipaliteit sê watergehalte-toetse word tans op ’n uurlikse basis uitgevoer om te verseker dat alle water aan drinkbare standaarde voldoen. Daarbenewens word daagliks monsters na 'n onafhanklike laboratorium gestuur vir verdere toetsing.