Loading...

NewsDesk

NewsDesk

DA eis terugbetaling van regskoste aan dr. Dion Theys

Community
Rodrick Titus
Thu, 08 May 2025

DA eis terugbetaling van regskoste aan dr. Dion Theys

Die Demokratiese Alliansie het ’n dringende versoek aan die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid gerig om die regskoste wat deur die staat betaal is vir die verdediging van die voormalige hoof van die Departement van Gesondheid, dr. Dion Theys, terug te eis.

Volgens inligting uit ’n parlementêre antwoord het die staat meer as R6,3 miljoen bestee aan Theys se hofprosesse. Hierdie bedrag sluit onder meer R409 000 vir voorverhoorkoste, R1,6 miljoen vir die verhoor, meer as R3,2 miljoen vir die hooggeregshof en byna R1 miljoen vir die Appèlhof in.

Dr. Theys is in Augustus 2023 skuldig bevind aan die oortreding van artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Hy het onreëlmatige huurooreenkomste gesluit vir verpleegakkommodasie. Sy appèl is in Desember 2024 deur die hooggeregshof in Kimberley van die hand gewys. Hy is ook in hegtenis geneem in verband met twee aparte sake oor persoonlike beskermende toerusting ter waarde van miljoene rande – sake wat in Desember van die rol geskrap is, maar wat moontlik heropen sal word.

'N verslag dui darop dat die besluit om die regskoste namens Theys te betaal, destyds deur die voormalige waarnemende hoof van gesondheid, Riaan Strydom, goedgekeur is. Die nasionale minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het bevestig dat die saak aan die provinsiale wetgewer voorgehou is, met die voorwaarde dat indien Theys skuldig bevind word, die koste van hom verhaal moet word.

Die party het intussen ’n formele brief aan die LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, gestuur om te vra wanneer die proses om die fondse van Theys te verhaal, sal begin. Daar is ook onsekerheid oor Theys se werksposisie, aangesien sy voorlopige herontplooiing binne die departement afhanklik was van die uitkoms van sy appèl.