solidariteit weier teken met kumba

Solidariteit het aangekondig hy nie ’n salarisooreenkoms wat Kumba Iron Ore op sy lede wil afdwing, onderteken nie. Dit volg nadat Kumba, as Anglo American se ysterertsprodusent, agteraf met die ander betrokke mynbouvakbonde ’n ooreenkoms bereik het ná die geskilverklaring deur Solidariteit. Kumba wil dit outomaties op Solidariteit se lede van toepassing maak. Die vakbond se hoofsekretaris Gideon Du Plessis se hulle weiering om te teken is ’n beginselsaak. Hy se Kumba onderhandel nie in goeie trou nie en dwing ’n ongunstige ooreenkoms op hulle lede af. Volgens die nuwe ooreenkoms sal geskoolde werkers ’n laer persentasie verhoging as oorwegend semi-geskoolde werkers ontvang. Solidariteit se hierdie praktyk spruit uit die vorige drie jaar loonooreenkoms toe dieselfde onregverdige beginsel deur Kumba toegepas is. Die nuwe ooreenkoms bied aan werkers op meestal hoër posvlakke verhogings van 6,5%, 5,5% en 5% oor die komende drie jaar. Werkers op laer posvlakke sal verhogings van tussen 8% en 7,5% vir jaar een, en verhogings van 6% en 5,5% vir die twee jaar daarná ontvang. Du Plessis voer aan Kumba het ook, soos met die vorige ooreenkoms, teenstrydige bewoording gebruik in ’n klousule vir die heropening van onderhandelinge, sou inflasie bo ’n sekere persentasie styg. 

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media