Water minister se hulp gevra met nk water kwessies

Die Demokratiese Alliansie het die Minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, versoek om onmiddellik besonderhede van die departement se aksieplan om die potensieel dodelike algebloei wat in die Vaalrivierstelsel, veral in die Barkly-Wes-gebied, opgespoor is, te verskaf. Dit kom nadat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gister 'n dringende waarskuwing oor waterbesoedeling in die Vaalrivier uitgereik het. Alle watergebruikers, insluitend munisipaliteite, gemeenskappe en boere langs die Vaal, veral in die Barkly-Wes, Windsorton en Warrenton area in Dikgatlong munisipaliteit, is versoek om nie water direk uit die rivier te drink nie. Die waterkrisis kom te midde van uiterste temperature wat in die Noord-Kaap ervaar word, tesame met 'n toenemende aantal watertekorte in munisipaliteite regoor die provinsie. Die DWS-waarskuwing kom ook twee weke nadat die DA 'n beroep op minister Mchunu gedoen vir ‘n dringende ingryping in die potensieel dodelike waterkrisis in Barkly-Wes. Toenemende kommer oor die stinkende en verkleurde water in hul krane en die daaropvolgende dood van 'n persoon wat aan erge diarree ly, wat vermoedelik deur besmette water veroorsaak is, is al ‘n geruime tyd deur gemeenskapslede geopper. Gemeenskapslede het skok en kommer uitgespreek oor die toestand van die rivier, wat oornag 'n dik, groen film ontwikkel het, soos 'n riooldam. Die DA het dele van die rivier geïnspekteer. Terwyl dit lyk of die alge stroomaf begin beweeg, is die water steeds nie veilig nie. Dit voorspel ook niks goeds vir die res van die Vaalrivierstelsel nie, en beteken ook nie dat die onderliggende oorsaak van besoedeling verskoon kan word nie. Die party se hulle is veral bekommerd oor die DWS se advies aan die Dikgatlong-munisipaliteit om bloot die behandeling en operasionele monitering van behandelde drinkwaterkwaliteit te verskerp, die chloordosis by die suiweringsaanleg te verhoog en om die filters gereeld terug te spoel. Die Dikgatlong-munisipaliteit kon al maande lank nie infrastruktuurverwante waterprobleme aanspreek nie. Kanse dat dit skielik die vermoë sal hê om waterbestuur te verbeter en aandag te gee aan die onderliggende oorsaaklike faktor van die verspulling van riool na die rivier sal kan aanspreek, is onwaarskynlik. Die DA het die waterkrisis na die Nasionale Raad van Provinsies verwys. Ons dring daarop aan dat waterspesialiste na die Dikgatlong-munisipaliteit ontplooi word om te help met onmiddellike remediëring en veiligheidsmaatreëls om te verseker dat inwoners volhoubare voorsiening van veilige drinkwater het. Die party se hulle verwag ook inligting van die waterbestuurstrategie vir die Vaalrivier, om voortgesette veiligheid van die water van die Vaalrivier te verseker.

Journalist: Rodrick Titus
Email: roderick@radioriverside.co.za

Social Media